Doelstelling van die Gemeente
Die hoofdoel van hierdie Gemeente, as kerk van Jesus Christus, is om die drie-enige God te verheerlik deur Sy opdragte getrou uit te voer, en om binne en buite die Gemeente slegs te doen wat Hy, ons Here en ons God, van ons verwag, teenoor Hom en teenoor ons naaste, en om alles wat in stryd daarmee is te verwerp. Op hierdie wyse strewe ons daarna om die groot liefdes opdrag uit te voer wat vir ons gegee word in Deut 6:5, Lev 19:18 en wat deur Jesus saamgevat word in Mat 22:37-40.
Fokus van die Gemeente
Dit wat onvermydelik vanuit die doelstelling van die Gemeente vloei is dat die Fokus van hierdie Gemeente nooit is om mense tevrede te stel, mense na die Gemeente toe te trek, of mense in die Gemeente te hou, ten koste van die Belydenis van die Gemeente en van Christus se opdragte nie. (2 Tim 4:3-4)
Ons Fokus, tot verheerliking van God, is:
- Om die volle evangelie van Christus suiwer, met al die nagevolge daarvan, te verkondig en aan mense te leer deur middel van Prediking, Bybelstudie, Verbondsonderrig (Kategese), Berading en Uitreik aksies:
- Binne die Gemeente, tot opbou, stigting en geestelike groei van die gemeentelede en dus die Gemeente as ‘n geheel. (Joh 21:15-17; 1 Kor 1:21; Ef 4:11-16; 1 Tim 4:11; 6:2; 2 Tim 4:2; Tit 2:15; 3:8)
- Buite die Gemeente, as uitvoering van die groot opdrag in Mat 28:19. (1 Kor 1:21; Rom 10:15; Ef 6:15; Joh 20:21)
- Om die Sakramente, naamlik die Eenmalige Verbondsdoop (Ef 4:4-6; Hand 2:38-39; Mat 28:19) en die Belydenisnagmaal (1 Kor 11:20-34), wat Christus ingestel het, suiwer volgens Sy Woord te bedien, tot versterking van die gelowiges.
- Om die Kerklike Tug wat Christus ingestel het (Mat 16:19) getrou toe te pas in die Gemeente sodat:
- Die Gemeente daardeur opgebou sal kan word volgens die belofte van Jesus in Mat 16:18-19.
- Afgedwaalde broers en susters daardeur terugwen kan word. (Mat 18:15)
- Dit die ander gemeentelede tot ‘n dieper erns van die nagevolge van sonde en dwaling sal bring. (1 Tim 5:20)
- Die Gemeente daardeur gesuiwer word en gesond gehou word. (1 Kor 5:6-8; Mat 18:6-9)
- Die Gemeente die heiligheid van God kan reflekteer, in kontras met die wêreld (Rom 12:2), tot Sy verheerliking. (Mat 5:16; 1 Pet 1:16, 2:12)
- Om gesamentlik tot God te nader in gebed, in die Erediens, Bybelstudies en Bidure. (1 Tes 5:17; 2 Tes 3:11; 1 Tim 2:8; Jak 5:17)
Belydenis van die Gemeente
Hierdie Gemeente van Jesus Christus glo dat die Heilige Skrifte van die Ou en die Nuwe Testament die volkome Woord van God is, wat ons letterlik, en in sy verband, volkome aanvaar. Ons glo dat hierdie Woord van God die enigste, finale, onfeilbare en genoegsame maatstaf van geloof en gehoorsaamheid aan God is, asook die enigste middel waardeur ons tot ware kennis van God en Sy wil kan kom. Dit geld vir die funksionering van die individuele Christen, sowel as vir die funksionering van die Gemeente en erediens van Christus. (2 Pet 1:19-21; 2 Tim 3:16-17)
Omdat ons glo dat dit met die Woord van God ooreenstem aanvaar ons, as Gereformeerde Kerk, ook:
Die Algemene Geloofsbelydenisse naamlik:
- Die Apostoliese Geloofsbelydenis (12 artikels)
- Die Geloofsbelydenis van Nicea
- Die Geloofsbelydenis van Athanasius
Die Gereformeerde Belydenisskrifte (Drie Formuliere van Eenheid) naamlik:
Vervolgens hierdie belydenis van die Woord van God is ons Gemeente genoodsaak om ook die volgende hedendaagse leringe as dwalinge te verwerp (1 Tim 4:2; 2 Tim 4:2, 3:16-17; Tit 1:11, 13; Jude 4; 2 Pet 2:1-3; 1 Joh 4:1; Op 2:2,14,15,20) omdat dit nie noodwendig direk in die Geloofsbelydenisse verwerp en/of aangespreek word nie:
- Israelvisie, Brits-Israel beweging of Gemeente van die Verbondsvolk. Ons glo, volgens Ef 2:14-16, dat Christus die middelmuur van skeiding afgebreek het en dat die evangelie dus nie net vir Israel, of die 10 stamme van die uitverkorenes (soos daardie dwaling leer), bedoel is nie, maar vir alle mense van elke stam volk en nasie. (Ef 2:11-22; Mat 28:19)
- Word of Faith beweging. Ons glo dat God aan ons behoeftes voorsien volgens Sy wil (Mat 6:10; Mat 26:39,42) en dat ons God nie kan voorsê om vir ons te gee net wat ons wil nie. God het ook nie ons toestemming nodig om in te tree in Sy skepping, soos wat hulle leer, nie. Geloof is ook nie ‘n innerlike krag, of positiewe denke, wat ons in staat stel om, by die uitspraak of verklaring van “geloofswoorde” te skep nie, want dit is God alleen wat skep en Hy alleen wat die mag het om te skep. Ons glo dat geloof, eerstens ’n vasstaande kennis is waardeur mens alles wat God in Sy Woord geopenbaar het vir waar aanvaar; en tweedens, ’n vaste vertroue, wat die Heilige Gees in ons hart werk, dat God aan ons, uit loutere genade, op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid, geskenk het. (Heb 11:1,7; Jak 2:19; Ef 2:8; Rom 4:18-21)
- Die Evolusieleer sowel as enige vorm van Teïstiese Evolusie. Ons glo dat God alles uit niks uit, in ses letterlike dae, geskep het presies soos wat Hy wou, en nie deur middel van lang prosesse van verandering nie. (Gen 1; Eks 20:11)
- Die oriëntasie en beoefening van Homoseksualisme. Ons glo dat Homoseksualisme ‘n dergelike sonde teen God, jou naaste, en selfs jou eie liggaam is, en dat daarvan bekeer moet word. (1 Kor 6:10-11; Rom 1:26-27; Lev 18:22-28)
- Buite egtelike seksuele verhoudings en vryblywende saambly verhoudings. Ons glo dat God die huwelik ingestel het as ‘n permanente verhouding tussen een man en een vrou en dat seks slegs binne daardie eenheid beoefen mag word. (Gen 2:24; 1 Kor 6:12-20; 1 Kor 7:2; Joh 4:16-18)
- Aborsie. Ons glo dat, by die vereniging van die vroulike en manlike sel, God alreeds ‘n mens geskep het en dat die opsetlike beëindiging van daardie lewe, op enige stadium van ontwikkeling, moord is en dus ‘n verbreking van die sesde gebod. (Eks 20:13; Gen 9:5-6)
- Die vrou in die Amp. Ons glo dat die rol van die man en vrou verskillend is, en daarom mag vroue nie dien as ouderlinge of predikante nie. (Gen 2:18; 3:16; 1 Kor 11:8-9; 14:34; 1 Tim 2:12-15, 3:1-13)
Lewende Lidmate van die Gemeente
Lidmate van die Gemeente wy hulle toe en verbind hulself tot die volgende belydenis:
- Dat die leer soos in die Ou en Nuwe Testament vervat word, en in die Drie Formuliere van Eenheid en die Algemene Geloofsbelydenisse opgesom word, en in hierdie kerk geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is.
- Dat die Here Jesus Christus sy/haar persoonlike Verlosser is en dat hy/sy Hom liefhet.
Verder belowe Lidmate van die Gemeente ook:
- Om as lidmaat van die Gemeente van Christus, deur Sy Genade, in hierdie belydenis (soos bo uiteengesit) van die leer, tot die einde van sy/haar lewe te volhard, en alle leringe wat daarvan afwyk, te verwerp.
- Om Jesus Christus te dien, Sy Naam getrou te bely voor die mense, en om aktief aan die werksaamhede en eredienste van die Gemeente deel te neem.
- Om die Gemeente te ondersteun en versterk deur bydraes, bemoediging, gebede, en belangstelling in medelidmate.
- Dat hy/sy hom/haar onderwerp aan die kerklike opsig en tug.