Gen 2:15-25

Een van die grootste redes waarom goed in die lewe misluk, is omdat dit van die begin af nie reg gedoen is nie, omdat dit op die verkeerde basis gedoen is, of op die verkeerde fondasie gebou is. En met omtrent niks anders in die lewe word dit duideliker gesien as in die huwelik nie. Huwelike misluk en breek uit mekaar uit omdat dit nie op die regte basis, die regte fondasie gebou is nie.

 

Kom ek illustreer. Sê nou ek wil ‘n huis bou.

 

Nou gaan ek en ek gaan koop vir my so paar pallets bakstene, so paar sakkies van die heel beste en duurste sement. Nou laai ek dit agter in my Jazz in… moenie lag nie ‘n Jazz het baie spasie! En daar gaan ek. Nou al wat ek moet doen is om te begin bou…. o nee wag ek lees die instruksies op die pakkie sement oor hoe dit aangemaak moet word. Daar gooi ek die pakkie sement uit, gooi die bietjie water by en nou meng ek dit lekker.

 

En nou begin ek bou. Ek lê gou die eerste ry stene op die grond langs. Nou ek wil ‘n sterk huis hê so ek lê twee rye bakstene langs mekaar netjies in ‘n reguit ry, so min of meer 10 meter, um nee wag, 15 meter, ek soek ‘n groot huis….. ‘n dubbel verdieping! Wel en nou moet ek die twee rye bakstene…. oeps nee wag, miskien moet ek die bakstene reg rondom pak, so 15 by 12 meter. En daar gaan ek en ek pak, mooi reguit lyntjies en ek gooi daai lekker sterk sement lekker dik bo-op en ek begin die tweede lot bakstene bo-op te pak, en so gaan ek aan.

 

Nou die van julle wie al ‘n huis gebou het, of wat iets daarvan weet, wat dink julle? Hoe goed dink julle gaan my huis wees? Ons weet mos, hy gaan inmekaar stort sommer met die eerste reën van die somer.

 

Wel dis presies hoe meeste huwelike vandag gebou is, maar jy verwag dit moet staan, dit moet hou as daar ‘n storm kom!! “O maar ek het darem die instruksie op die sement pakkie gelees en dit gevolg”. Om die sement aan te maak is maklik, dis soos koekies bak, eintlik nog makliker want daar kom nie eers margarine en eiers by nie. Om twee bakstene aan mekaar geplak te kry met sement, dis eenvoudig.

 

Om te trou, om ‘n troue te hê, ‘n seremonie en onthaal, dis maklik, dis koekies bak. Maar kom ek vra nog ‘n vraag, as ek die huis so bou, op daardie manier, watter verskil gaan die kwaliteit en die prys van die sement aan daai huis maak? Dit gaan hoogstens die bakstene net so bietjie langer aan mekaar hou dalk, maar die huis gaan nogsteeds skeef wees en uiteindelik inmekaar stort.

 

Maar ons spandeer hoeveel ure daaraan om ons troues te beplan?

 

Alles moet perfek volgens die boek gedoen word… wanneer dit by die troue kom. Ons huur beplanners en fotograwe, spyseniers… Ek lees êrens hulle sê dat mense op gemiddeld, iets soos 250 ure spandeer op die beplanning van hulle troue. Die gemiddelde koste vir ‘n troue beloop so iets soos R 700-R800 per persoon, so R70-80K as jy 100 mense nooi. En dan kom die groot dag en “bing bang”, 2 of 3 ure en julle is getroud en die seremonie en onthaal is verby, great! Awesome! Geluk! Jy het die sement mooi aangemaak! Jy het twee bakstene aanmekaar vas gesement.

 

So vir die 2-3ure troue het jy 250ure se beplanning spandeer. Maar hoeveel ure se beplanning het julle spandeer om voor te berei vir die huwelik… wat hopelik darem bietjie langer gaan wees as die troue, hoeveel ure? Miskien 3 of 4 ure se voorhuwelikse berading? Vandag word meeste mense wishy washy sentimentele DVD’s gegee om na te kyk ter voorbereiding vir die huwelik.

 

Maar die sement is darem volgens instruksie aangemaak……! Twee bakstene is aanmekaar geplak…!

 

Ons probleem begin by die heel eerste punt, dit begin by wie die huwelik ingestel het, dit begin by die oorsprong van die huwelik. Julle sien, as die huwelik ‘n blote menslike instelling was dan kon ons maar gemaak het daarmee soos wat mense vandag daarmee maak…. net wat hulle wil.

 

Maar dit is nie ‘n menslike instelling nie, dit is God wat die huwelik ingestel het, dit is Hy wat dit ontwerp het op ‘n sekere manier, en vir ‘n sekere doel.

 

In Genesis 2:24 lees ons die instellings woorde van die huwelik, waar God sê, “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” Hy herhaal daardie woorde op drie ander plekke in die Bybel naamlik Mat 19:5, Mar 10:7-8 en Ef 5:31. Dit is die fundamentele basis van die Huwelik, die fondasie.

Die eerste belangrikste punt wat ons moet, moet onthou: Die huwelik kom van God af, dis Sy instelling, Sy plan, Sy ontwerp, vir Sy skepping.

 

Dit beteken natuurlik dat ons daarom die huwelik nie opsy mag skyf nie. Ons het nie die reg om te besluit dat die huwelik vandag nie meer werk en dit daarom sommer maar net te los en dit op ‘n ander manier te doen nie. Nee, dit is God se instelling en daarom bly dit staan. Maar omdat dit God se instelling en ontwerp is, beteken dit ook dat ons dit nie sommer maar net kan doen soos wat dit ons pas, of volgens dit wat by die tydsgees en populêre idees pas nie.

 

Die groot idee vandag is die saambly verhouding. Dit werk beter volgens mense (die praktyk, net terloops, bewys anders). En, sê hulle, “dit is in elk geval voor God asof ons getroud is”. Um, nee dit is nie, dit is net nie so nie. Vat byvoorbeeld die gedeelte in Johannes 4 waar Jesus met die Samaritaanse vrou praat. Onthou julle wat het hy vir haar gesê toe sy vir Hom sê “ek het nie ‘n man nie”? Jesus het haar geantwoord, “Jy het reg gesê: Ek het nie ‘n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.”

 

Wat is Sy punt? Sy het saam met die ou gebly, sy was in ‘n verhouding met hom wat vandag gesien sal word as “ons is voor God getroud”, maar Jesus (God self) klassifiseer dit as “hy is nie jou man nie”. Daar was geen amptelike huwelik nie. So wanneer mense vir ons wil sê, maar dit is dieselfde as om getroud te wees, is die antwoord eenvoudig, nee, dit is nie. In Spr 2:17 en Maleagi 2:14 noem God die huwelik ‘n verbond, ‘n konsep wat ingesluit word in die Hebreeuse woord wat in Gen 2:24 vertaal word met “aankleef”, dit is ‘n verbond deur God ingestel, wat ons moet eer en moet toepas soos wat Hy wil.

 

God het ‘n spesifieke ontwerp, ‘n spesifieke plan en ‘n spesifieke doel, of doelwitte, met die huwelik. Met ander woorde, ons mag ook nie nou skielik, net omdat dit ‘n populêre idee is, mans met mans en vrouens met vrouens laat trou nie. Nee, oor en oor lees ons in die Skrif dat die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou is. Die Here het uit Adam die vrou, Eva, gemaak en dit is hulle twee, man en vrou wat bymekaar pas en wat mekaar moet aankleef (sien in verband hiermee ook 1 Kor 6:10; Rom 1:27; Lev 18:22; 20:13 ens.).

 

Ons lees ook in die Skrif dat God spesifieke rolle vir die man en vrou gegee het. Nou ons sal in ‘n latere artikel wel daarby kom, maar vir nou is die punt net, as God spesifieke geslagsrolle daar gestel het in Sy ontwerp vir die huwelik, wat Hy geskep en ingestel het, dan sal ons dwaas wees om dit nie te volg nie, soos iemand wat ‘n huis so probeer bou soos wat ek bo beskryf het “. Selfs al is dit hoe moeilik, selfs al voel dit vir jou of jou spesifieke huwelik en omstandighede die uitsondering op die reël is, en dat jy daarom die normale geslagsrolle maar mag omdraai in jou huwelik, nee dit is nie.

 

Daar is in die bou van ‘n huis basiese beginsels waaraan voldoen moet word. Ek meen sekere goed kan dalk op ‘n ander manier gedoen word volgens die soort grond of die area waar jy die huis bou, waar jy die verskillende kamers wil hê, watter soort dak jy gaan gebruik, of jy gaan pleister of nie ens. Maar daar is basiese beginsels waarvan jy nie afwyk as jy ‘n huis bou nie. Ons weet dit, ons verstaan dit, maar dit is presies dieselfde met die huwelik, en eintlik nog meer so.

 

Daar is een vaste plan en ontwerp van die een alwyse Skepper van die huwelik, en terwyl jy miskien nog kan durf om met ‘n argitek of ingenieur te stry oor die ontwerp of watokal van die huis, omdat hulle feilbaar is, kan jy nie met God stry nie, want Hy is onfeilbaar. Hy is altyd reg, en Sy plan en doel is altyd volmaak.

 

Huwelike val uitmekaar uit, en let wel, dit geld vir alle huwelik wat misluk, sonder uitsondering, hulle misluk net vir een rede, omdat hulle afgewyk het van God se plan en doel vir die huwelik.

 

Maar met dit gesê, jy kan ‘n huis baie goed bou, jy kan ook al die planne volg en ‘n goeie fondasie en al daardie dinge volgens die boek doen, maar dit kan nogsteeds inmekaar sak of uitmekaar geruk word deur ernstige natuurrampe.

 

Maar ‘n huwelik wat op God se fondasie, Christus gesentreerd is, en volgens God se plan gebou is, liewe broer en suster, is onvernietigbaar, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Onthou: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” (1 Kor 10:13)

 

As jy wil hê dat jou huwelik onwankelbaar en onbreekbaar moet wees, doen dit op God se manier, bou dit op Sy goeie en vaste fondasie, volg Sy plan en moet nooit daarvan afwyk nie!